18 January 2024

Steggies Kleuterskool Vier Tiende Bestaansjaar

Submitted by: Ronelda Visser
Steggies Kleuterskool Vier Tiende Bestaansjaar

Steggies Kleuterskool in Devonvallei net buite Stellenbosch herdenk in 2024 ‘n suksesvolle dekade van moedertaalonderrig en vroeëkinderontwikkeling in ‘n eiesoortige plaasomgewing waar kinders leer deur na hartelus te speel.

Steggies Kleuterskool het sy ontstaan te danke aan ‘n begeerte om kinders in ‘n gemaklike, geen fiemies, maar goeie moedertaalskool op ‘n plaas te kon hê.  Iewers buite die dorp se gewoel waar kinders in ‘n veilige omgewing kan kindwees en soveel as moontlik vryheid – binne grense natuurlik – ervaar.

Studies het bewys dat kinders wat vir minstens die eerste ses jaar van hul skoolopleiding in hulle moedertaal onderrig word se algehele skolastiese prestasie beter is as die kinders wat in ʼn bykomende taal moet leer. Wanneer die beginsels van lees eerstens in die moedertaal aangeleer is, word dit soveel makliker om daardie vaardighede toe te pas op ʼn bykomende taal.

“Ons het in 2014 ons deure geopen met die visie om ’n skooltjie te vestig in ’n liefdevolle omgewing met pragtige natuurskoon, individuele aandag en ‘n familie-oriëntasie. Saam met elke ouer wil ons by dié plaasskool ‘n groeimedium en klimaat help skep waarin kinders kan wortel skiet en ontwikkel tot hul volle potensiaal as gebalanseerde en vrydenkende individue,” sê Tarien Ferreira.

Die plaashuis op Nonke is tien jaar gelede omskep in ‘n skool en die naam is geinspireer deur die maak van plantsteggies wat tipies behels dat ‘n klein gedeelte van ‘n ouer-plant verwyder word. Deur die steggie dan van die regte sorg, klimaat, groeimedium en ander hulpmiddels te voorsien, word die steggie aangemoedig om sy eie wortelstelsel te vestig en as ‘n onafhanklike plant te groei. “So is dit dan ook met ons kinders se menswording.”

Steggies Kleuterskool is geregistreer by die Departement van Sosiale Werke en is by die Vereniging vir Voorskoolse Opvoeding en Sorg (VVOS) en Stellenbosch ECD forum geaffilieerd asook deel van die Skole Ondersteuningsnetwerk ( www.skole.co.za ) wat deurlopend opleidingsgeleenthede fasiliteer. Steggies glo in die ontwikkeling van en investering in personeel met deurlopende indiensopleiding en kursusse hoog op die agenda.

In totaal kan net 80 kinders Steggies bywoon op enige gegewe dag.  Daar is ses gekwalifiseerde onderwyseresse asook assistente wat voldoen aan alle voorvereistes vir skoolregistrasie, soos gestel deur die Departement Sosiale Werke.  Die doelwit is om ‘n leerder-onderwyser verhouding van 1:10 vir die ouer klasse, 1:7 vir die twee tot drie jariges, 1:5 vir die een tot twee jariges en 1:3 vir babas te handhaaf.

Holisties beskou, hang ‘n kind se ontwikkeling van ‘n paar elemente af, naamlik gesondheid, voeding, sosiale beskerming, vroeë leer en ondersteuning vir primêre versorgers. Steggies bedien heilsame middagetes en ‘n laatmiddag happie vir voldag kinders.  Eenvoudige en gesonde resepte word seisonaal aangepas met vrugte en koue water deurlopend beskikbaar.

Sedert 2020 het Steggies ook ‘n toegewyde babakampus eenkant weg van die skool se gedruis waar babas en peuters van vier tot 18 maande welkom is. Die babakampus beskik oor twee klassies met  ‘n maksimum van ses kinders per klas.

Die kleuterskool is Maandag tot Vrydag van 07h15 tot 17h30 oop asook in vakansies, behalwe ‘n week in die Junie vakansie en oor die Desember/Januarie feestyd.  Steggies bied ook nasorg vir kinders tot en met Gr3 waartydens kinders vrylik speel, eet, ontwikkelings-aktiwiteite doen en indien nodig, huiswerk hulp kry – die kinders moet net self vervoer word.

Studies toon dat kinders wat vroeëkinderontwikkeling opvoeding kry dikwels ’n voorsprong het en beter vaar op skool omdat hulle die geleentheid kry om die basiese vaardighede wat nodig is om suksesvol te leer, reeds vroeg vaslê.

By Steggies Kleuterskool streef ons deurlopend daarna om die kinders te stimuleer en ‘n omgewing te skep waarin elkeen sy of haar volle potensiaal kan bereik deur hulle kognitiewe vermoëns asook hulle emosionele en sosiale ontwikkeling aan te spreek.  Steggies Kleuterskool is reeds van 9 Januarie 2024 op dreef.

Vir meer inligting, besoek gerus www.steggieskleuters.co.za of SteggiesKleuterskool op Facebook en Instagram of stuur ‘n e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. 

Peridot Communications

Boutique PR agency creating bespoke campaigns for a select group of clients. Specialising in traditional and social media, event management and brand exposure.